Gepubliseer in INSIG: Augustus 2002   

Amateurfotograwe, het KARIN BRYNARD nog altyd gedink, is druilore en vaalseuns wat koekblikprente afneem. Maar toe ontdek sy, nadat sy haar vir 'n kursus ingeskryf het, hierdie stokperdjie is eitlik kos vir 'n adrenalien verslaafde. Hier is haar fotos na 'n praktiese kursus in die Namib.

"O vrek, die son gaan onder! 
"Nou moet jy flippen vinnig speel, ou sussie. Skuif die kamerahoek. Lê platter. Kry die goudstreep van jou grashalm skerp in die voorgrond - n-e-e-e-ét soooo… Sy broosheid moet met jou praat. Dit moet uitroep teen die weemoed van 'n sakkende son.

"Daar's hy! Jie-ha-a-a-a! Hierdie een gaan die foto van die eeu wees! Goumaak, goumaak,die son sak." 

Ek lê met hortende asem op die naat van my rug - skuinsdwars teen 'n sandduin in die Namib - en ek praat kliphard met myself. Ek's weg vir die wêreld, verlore in die foto wat ek wil verewig. Jy kan 'n spoegende pofadder op my gooi, ek sal nie hik of skrik nie.

My een been lê lankgerek onder my uit in 'n spastiese poging om 'n lastige bossie uit my komposisie te hou. Die ander voet sit springkaangewys onder my boud ingedruk vir balans. Dit kan my nie skeel hoe ek lyk en wie wat kan sien uitsteek nie. Ek neem foto's. In my lens dans die ragfyn verewerk van 'n enkele, verdorde woestyngrassie teen die drama van 'n swaargekweste son.


Karin Brynard

"Staan stil, liewe grassie, staan net bleddie stil. Loop weg, wind. Bogger off! Stel jou spoed laer, imbesiel, dit raak te donker. Staan stil grassie."

Kliek. 

 "Nog een! Laer sluiterspoed, meer lig." 

Kliek.

 "Bliiiiiik! Die bleddie film is op."

 Grawe in my sakke vir 'n nuwe. Wikkel hom uit die verdomp-deegliktoegemaakte boksie. Die spanning maak my hande dom en die spiere in my rug en bobene tril soos dié van 'n jong hings wat leeu ruik. Al waaraan ek dink is die foto van die eeu wat vinnig saam met die sakkende son verdwyn. Daar kan dalk nog 'n duisend sonsakke wees, maar nooit weer een soos hierdie met die grassie nie. 

Dan val die film in die sand. Groot, gutturale vloekwoorde glip die aanlug in. Gryp 'n nuwe film, ruk die boks met my tanne oop, gooi hom in die kamera en val terug op my rug en begin kliek…

 Maar die son het veerveeld geraak met my rasende bedrywigheid hier teen die sandduin en loop bêre sy kop iewers wes van die duine.

Alles is skielik oor en verby. Ek sit, 'n uitgewoede minnaar, teen die duin in die skemer en kom tot verhaal. Met 'n simpel-gelukkige smile op my bakkies en 'n asem wat jaag. Natgesweet. Daar's sand in my pêntie en in my ore en my hande ruk so ek sukkel om 'n vuurhoutjie te trek vir my sigaret.

Maar my hart klop tjoklits. Ek het die-here-weet die mooiste foto's geneem…


Karin Brynard

As jy my 'n maand gelede gesê het ek gaan 'n besotte, adrenalienverslaafde amateurfotograaf word, het ek dalk hard en lelik gelag. Ekke? Op my ouderdom? In die stiknag met 'n ellendige driepoot en sak vol lense rondneuk vir die regte "spot" vir die opkomende son?

 Aikôna!

 Ek was nog nooit 'n stokperdjie mens nie. Die wÙ Ù rd al klaar… Dit was wat mense by hul "mug shots" in die hoekie-vir-eensames-kolomme gemeld het. "Versamel teelepels en is lief vir die mooi dinge in die lewe…"

 Hierdie perd het my egter gegryp oor ek vir die soveelste keer misnoegd was met my vakansie-flops en eers gedog het 'n nuwe, duur, beter kamera sal my kiekies red. Maar my sonsondergange het steeds soos beesmispasteie gelyk.

 Toe skryf ek maar in vir 'n fotografie-kursus.

My instruktrise is 'n vrolike vinkie uit die mooi Jonkershoekvallei op Stellenbosch, Nicole Palmer, wat oorborrel van lewenslus en entoesiasme vir haar vak.  

Ek en 'n tienstuks ander fotografies-agtergeblewenes sit weke lank in haar aandklasse en raak algaande bekoor deur die mooi wat 'n kamera-oog kan raakvang. En voor ek my kom kry raak ek meegsleur, begeesterd, obsessief, verslaaf. En my man wens my nuwe kamera wil breek. 

Met dié nuwe mier in die broek, beland ek saam met my fotografie-juffrou, Nicole, in die woestyn. Sy is lid van 'n groep fotografie-ekspressioniste wat hulself Agape (Engels vir oopbek aanstaar) noem en bekendes insluit soos die legendariese Colla Swart van Kamieskroon. Hulle het die afgelope tien jaar 'n rewolusie in die Suid-Afrikaanse  amateurfotografie-wêreld veroorsaak met hul benadering om verby die ou, rigiede reëls van fotografie te beweeg en met hul kameras te skilder. Hulle glo dat ekspressionisme en 'n waaghalsige kreatiwiteit net so 'n opwindende, belangrike deel van fotografie vorm as die klassieke reels van tegniek, vormgewing en komposisie. Hierin bied hulle slypskole aan op interessante, fotogeniese plekke soos die Namib, Richtersveld en Namakwaland.

Nicole is 'n pottebakster van beroep en haar kollega, Willem Oets, is 'n mediese praktisyn van Durban. Saam met Lydia Ellis van Somerset-Wes vorm hulle 'n driemanskap wat die wonderwereld van fotografie vir mede-verslaafdes wil oopmaak.

Mense vanoor die ganske aarbol woon hul slypskole by. Daar's ingenieurs en rekenmeesters en bankbestuurders en huisvrouens en skrywers, en, snaaks genoeg, veral dokters. Buiten Willem, is daar vyf medisynemense op die kursus - wat wissel van die superintendent van die grootste hospitaal in die Vrystaat tot by 'n gesinsdokter van Hermanus en 'n chirurg van Florida in die VSA. 

Soggens vieruur kruip ons uit ons gate - elkeen met net een ding in sy kop: Die foto van alle foto's. Ons neem die opkomende son af teen duine, teen dooie bome, teen rotse en klippe en noem maar op. En soos die son skuif, so verander die landkskap. Die lig dans letterlik in die woestyn. Die duine se pers word ligroos, word bloedrooi dan skelwit teen die middaguur. En laatmiddag word dit oker en jerepigo en uiteindelik 'n skugter, geheimsinnige blou.

  Die foto-sessies word afgewissel met lesings oor algemene ontwerpbeginsels in die visuele kuns en fotografie en in die veld staan Nicole en Willem by en wys foto-moontlikhede uit en leer en rig af.

Soggens daag Lydia en 'n kookspan op met 'n warm ontbyt wat almal saam onder 'n kameeldoringboom verorber, gloeiend van die opwinding van die oggend.

In die loop van die week begin die woestyn terugpraat met my. Dit spreek my intuÎ sie en emosie aan. Ek gaan soek nou nie meer die komposisies nie, hulle kom soek my. Metafore begin vanself voor my lense opdoem: Die swiep van 'n cirrus-verewolk oor die hemel, raak die albatrosvlug waarvan die oerwoestyn droom…

Almal van ons begin agterkom dat die woestyn en die intense foto-sessies ons koppe begin buig. Baie meld dat hulle ver verlangens ontwikkel of emosioneel meer broos begin voel - veral die mans.

"Moenie worry nie," se Willem Oets besadigd, pyp in die mond. "Julle is maar net besig om weer die paaie oop te boor na jul kreatiewe regterbreinlobbe." Aan die einde van die week voel ons almal aangespreek deur die natuur en elkeen se eiesoortige vertolking daarvan. Dit raak 'n diepsinnige, sielvolle ervaring.

Terug by die huis kry ek die foto-nemery nie uit my lyf uit nie. Ek besef ek het verander - het 'n aspoesterervaring gehad en is nou getoor met mooi. 

En my man? Die liewe ding dra hoopvol die een teelepel na die ander vir my aan....


Karin Brynard

| Home | Workshop details | Photographs of the area | How to get there | Register for a workshop | Workshop Fees | About us |