 |
Amateurfotograwe,
het KARIN BRYNARD nog altyd gedink, is druilore en
vaalseuns wat koekblikprente afneem. Maar toe ontdek sy,
nadat sy haar vir 'n kursus ingeskryf het, hierdie
stokperdjie is eitlik kos vir 'n adrenalien verslaafde.
Hier is haar fotos na 'n praktiese kursus in die Namib.
|
|
|
"O
vrek, die son gaan onder!
"Nou moet jy
flippen vinnig speel, ou sussie. Skuif die kamerahoek. Lê
platter. Kry die goudstreep van jou grashalm skerp in die
voorgrond - n-e-e-e-ét soooo… Sy broosheid moet met jou praat.
Dit moet uitroep teen die weemoed van 'n sakkende son. |
|
"Daar's
hy! Jie-ha-a-a-a! Hierdie een gaan die foto van die eeu wees!
Goumaak, goumaak,die son sak."
Ek
lê met hortende asem op die naat van my rug - skuinsdwars teen 'n
sandduin in die Namib - en ek praat kliphard met myself. Ek's weg
vir die wêreld, verlore in die foto wat ek wil verewig. Jy kan 'n
spoegende pofadder op my gooi, ek sal nie hik of skrik nie.
My
een been lê lankgerek onder my uit in 'n spastiese poging om 'n
lastige bossie uit my komposisie te hou. Die ander voet sit
springkaangewys onder my boud ingedruk vir balans. Dit kan my nie
skeel hoe ek lyk en wie wat kan sien uitsteek nie. Ek neem foto's.
In my lens dans die ragfyn verewerk van 'n enkele, verdorde
woestyngrassie teen die drama van 'n swaargekweste son. |

Karin Brynard |
|
"Staan
stil, liewe grassie, staan net bleddie stil. Loop weg, wind.
Bogger off! Stel jou spoed laer, imbesiel, dit raak te donker.
Staan stil grassie."
Kliek.
"Nog
een! Laer sluiterspoed, meer lig."
Kliek.
"Bliiiiiik!
Die bleddie film is op."
Grawe
in my sakke vir 'n nuwe. Wikkel hom uit die
verdomp-deegliktoegemaakte boksie. Die spanning maak my hande dom
en die spiere in my rug en bobene tril soos dié van 'n jong hings
wat leeu ruik. Al waaraan ek dink is die foto van die eeu wat
vinnig saam met die sakkende son verdwyn. Daar kan dalk nog 'n
duisend sonsakke wees, maar nooit weer een soos hierdie met die
grassie nie.
Dan
val die film in die sand. Groot, gutturale vloekwoorde glip die
aanlug in. Gryp 'n nuwe film, ruk die boks met my tanne oop, gooi
hom in die kamera en val terug op my rug en begin kliek…
Maar
die son het veerveeld geraak met my rasende bedrywigheid hier teen
die sandduin en loop bêre sy kop iewers wes van die duine.
Alles
is skielik oor en verby. Ek sit, 'n uitgewoede minnaar, teen die
duin in die skemer en kom tot verhaal. Met 'n simpel-gelukkige
smile op my bakkies en 'n asem wat jaag. Natgesweet. Daar's sand
in my pêntie en in my ore en my hande ruk so ek sukkel om 'n
vuurhoutjie te trek vir my sigaret.
Maar
my hart klop tjoklits. Ek het die-here-weet die mooiste foto's
geneem…
|

Karin Brynard |
|
As
jy my 'n maand gelede gesê het ek gaan 'n besotte,
adrenalienverslaafde amateurfotograaf word, het ek dalk hard en
lelik gelag. Ekke? Op my ouderdom? In die stiknag met 'n ellendige
driepoot en sak vol lense rondneuk vir die regte "spot"
vir die opkomende son?
Aikôna!
Ek
was nog nooit 'n stokperdjie mens nie. Die wÙ Ù rd al klaar…
Dit was wat mense by hul "mug shots" in die
hoekie-vir-eensames-kolomme gemeld het. "Versamel teelepels
en is lief vir die mooi dinge in die lewe…"
Hierdie
perd het my egter gegryp oor ek vir die soveelste keer misnoegd
was met my vakansie-flops en eers gedog het 'n nuwe, duur, beter
kamera sal my kiekies red. Maar my sonsondergange het steeds soos
beesmispasteie gelyk.
Toe
skryf ek maar in vir 'n fotografie-kursus.
My instruktrise is 'n vrolike vinkie uit die mooi
Jonkershoekvallei op Stellenbosch, Nicole Palmer, wat oorborrel
van lewenslus en entoesiasme vir haar vak.
Ek
en 'n tienstuks ander fotografies-agtergeblewenes sit weke lank in
haar aandklasse en raak algaande bekoor deur die mooi wat 'n
kamera-oog kan raakvang. En voor ek my kom kry raak ek meegsleur,
begeesterd, obsessief, verslaaf. En my man wens my nuwe kamera wil
breek.
Met
dié nuwe mier in die broek, beland ek saam met my
fotografie-juffrou, Nicole, in die woestyn. Sy is lid van 'n groep
fotografie-ekspressioniste wat hulself Agape (Engels vir oopbek
aanstaar) noem en bekendes insluit soos die legendariese Colla
Swart van Kamieskroon. Hulle het die afgelope tien jaar 'n
rewolusie in die Suid-Afrikaanse amateurfotografie-wêreld
veroorsaak met hul benadering om verby die ou, rigiede reëls van
fotografie te beweeg en met hul kameras te skilder. Hulle glo dat
ekspressionisme en 'n waaghalsige kreatiwiteit net so 'n
opwindende, belangrike deel van fotografie vorm as die klassieke
reels van tegniek, vormgewing en komposisie. Hierin bied hulle
slypskole aan op interessante, fotogeniese plekke soos die Namib,
Richtersveld en Namakwaland.
|
 |
|
Nicole
is 'n pottebakster van beroep en haar kollega, Willem Oets, is 'n
mediese praktisyn van Durban. Saam met Lydia Ellis van
Somerset-Wes vorm hulle 'n driemanskap wat die wonderwereld van
fotografie vir mede-verslaafdes wil oopmaak.
Mense
vanoor die ganske aarbol woon hul slypskole by. Daar's ingenieurs
en rekenmeesters en bankbestuurders en huisvrouens en skrywers,
en, snaaks genoeg, veral dokters. Buiten Willem, is daar vyf
medisynemense op die kursus - wat wissel van die superintendent
van die grootste hospitaal in die Vrystaat tot by 'n gesinsdokter
van Hermanus en 'n chirurg van Florida in die VSA.
Soggens
vieruur kruip ons uit ons gate - elkeen met net een ding in sy
kop: Die foto van alle foto's. Ons neem die opkomende son af teen
duine, teen dooie bome, teen rotse en klippe en noem maar op. En
soos die son skuif, so verander die landkskap. Die lig dans
letterlik in die woestyn. Die duine se pers word ligroos, word
bloedrooi dan skelwit teen die middaguur. En laatmiddag word dit
oker en jerepigo en uiteindelik 'n skugter, geheimsinnige blou.
Die
foto-sessies word afgewissel met lesings oor algemene
ontwerpbeginsels in die visuele kuns en fotografie en in die veld
staan Nicole en Willem by en wys foto-moontlikhede uit en leer en
rig af.
Soggens
daag Lydia en 'n kookspan op met 'n warm ontbyt wat almal saam
onder 'n kameeldoringboom verorber, gloeiend van die opwinding van
die oggend.
In
die loop van die week begin die woestyn terugpraat met my. Dit
spreek my intuÎ sie en emosie aan. Ek gaan soek nou nie meer die
komposisies nie, hulle kom soek my. Metafore begin vanself voor my
lense opdoem: Die swiep van 'n cirrus-verewolk oor die hemel, raak
die albatrosvlug waarvan die oerwoestyn droom…
Almal
van ons begin agterkom dat die woestyn en die intense foto-sessies
ons koppe begin buig. Baie meld dat hulle ver verlangens ontwikkel
of emosioneel meer broos begin voel - veral die mans.
"Moenie
worry nie," se Willem Oets besadigd, pyp in die mond.
"Julle is maar net besig om weer die paaie oop te boor na jul
kreatiewe regterbreinlobbe." Aan die einde van die week voel
ons almal aangespreek deur die natuur en elkeen se eiesoortige
vertolking daarvan. Dit raak 'n diepsinnige, sielvolle ervaring.
Terug
by die huis kry ek die foto-nemery nie uit my lyf uit nie. Ek
besef ek het verander - het 'n aspoesterervaring gehad en is nou
getoor met mooi.
En
my man? Die liewe ding dra hoopvol die een teelepel na die ander
vir my aan....

Karin Brynard
|
| Home
| Workshop
details | Photographs of the area |
How
to get there | Register for a workshop
|
Workshop Fees | About
us |
|